Beeld
2010/07/26 12:00:00 AM
Dis great,” sê ek vir my meisie nadat ek die eerste storie (“Fucked for life”) in Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel gelees het.
Ons is op ’n vliegtuig van Kaapstad na Johannesburg.
“Waaroor gaan dit?” sê sy en kyk op uit haar boek.
Ek verduidelik dit gaan oor twee vroue, ’n verhouding, hulle is in die bed en luister na Kippie Moeketsi.
Sy kyk na die omslag – mooi ontwerp, die teks wat uitstaan soos letters op ’n outydse fliekplakkaat, ryp lemoene wat daardeur hang.
“Dit laat my dink aan Jeanette Winterson se Oranges are not the only fruit. Jy moet dit ook lees,” stel sy voor.
Ek lees verder. Die volgende storie se naam is “Lemoene”(!).
Dit gaan oor ’n man en ’n vrou en hul gedoemde verhouding.
Die lemoenboom in die agterplaas is wat die man anker aan hierdie, hul nuwe huis.
Die vrou soek na iets anders; haar eie (Duitse) mense se kerk. Sy dink sy’t ’n fout gemaak deur met die man te trou.
Die ontknoping van die verhaal is so vol van die hol gevoel (die man pluk al die lemoene, stap die straat af, weg) dat die laaste punt amper eggo.
Jeanne Goosen is vreesloos, dit weet ons lankal, en met Plante kan praat trek sy sonder skroom vorentoe, na ’n plek waar sy haar stem, karakters en tempo perfek vashou soos ’n koetsier ’n span perde op ’n bergpas hou sonder dat een ooit ’n voetjie verkeerd sit.
Daar is bekende bakens: arm buurte; kinders wat wil úít; dialoog gestroop tot sy menslikste; Parow; fantastiese karaktername (die wenner is “Spokie Snygans”); haar eie lewe; en skokkende tonele, soos in “Wolwors”.
“Wolwors” ontaard in ’n orgie, daar is groepseks en verkragting, moord ook. Hoekom? Ek weet nie. Seker maar om dieselfde rede dat dit elke dag in die koerant is: Dit gebeur.
Daar is ook sprokies, soos “Lubbert Das”.
Dit kies die kant van die hoopsoeker, die sukkelaar, die mens wat iets verloor het en liefde begeer.
Dit is in ’n stadium elke een van ons, en dit is wat hierdie stories so groot maak, want hulle is jou vriend, hulle ken jou naam voordat jy die boek oopmaak.
’n Lemoen speel weer ’n rol in “Lubbert Das”. Die hertogin gee vir Lubbert die helfte van ’n lemoen. En dan kom Lubbert se openbaring: Sy besef haar lewenstaak is om die hertogin se tuinier te word.
In “Malva” gaan ’n arm kind op reis met ’n flambojante, ryk egpaar. Dit lyk of hulle haar aanneem, maar een aand verlaat hulle haar sonder taal of tyding.
Sy keer amper magies-realisties-maklik terug na haar regte ma, wat besig is om ’n malvaplantjie stewig te anker in ’n pot. Sy is tuis.
Sulke verkenningsreise is algemeen onder die verhale.
In “Begeerte” reis Bjork (“die swaksinnige, die idioot”) buite die woestyndorp se grense en vermaak ’n begeerlike vrou met voëlgeluide.
“Ek wil padgee, na ’n beter plek verhuis,” verklaar Emma in “Famous last words”. Dis byna swart komedie, dié storie.
Die Van der Walt-gesin wat skynbaar almal – behalwe vir Emma – reeds dood is, selfmoord gepleeg het.
Dit herinner aan Etgar Keret se novelle Kneller’s Happy Campers, waarin almal wat selfmoord gepleeg het, saambly in dieselfde plek (wat na Tel Aviv lyk ...).
Maar Jeanne Goosen is haar eie, eie mens.
Selfs toe ek later, terug in die Kaap, Jeanette Winterson se Oranges are not the only fruit lees, en google en sien dat Jeanette ook hou van tuinmaak, nes Jeanne, en dat Jeanne se volle doopname wragtag Jeannette Helena is.
Sien, niemand behalwe iemand met die swagger en selfvertroue van Jeanne Goosen kan dít skryf nie:
“Ek tjek myself in die spieël agter die waiter by die toonbank, haal ’n kam uit my sokkie en trek dit deur my dik bos blink hare.
My strikdas sit nog net waar dit vanoggend gesit het.
So ja.
‘Wie is jy?’ vra die goose.
‘Hulle noem my Jean.’”
Dis ’n puik versameling hierdie, met stories wat jou gaan laat lag en huil, vinnig laat omblaai en soms lank, lank, laaaank op een bladsy gaan laat watertrap.
Coetzer is reisredakteur by Weg.