Kwela

Sign up for our newsletter!
Bookmark with...

About this book

Toring se Baai | General Fiction

E. Kotze

A novel by the well-known short-story writer, E. Kotze.

It is set during WWII in Toring, a small village on the West Coast. It is difficult to survive in this harsh landscape, and even more so after a major storm that lasts for two days.

Reviews

Die Burger
Dorothea van Zyl

26/07/2010

’n Vergange wêreld blaai oop by die lees van E. Kotze se nuwe roman. Dit is ’n mooi voorbeeld van ’n dorpsroman, ’n klein geskiedenis oor die lotgevalle van ’n klompie mense, saamgegooi op ’n sekere plek en tydstip in die geskiedenis. Daarom kry die leser vooraf eers ’n skets van die plek en begin die ­heerlik tyd­same vertelling met ’n uitgesponne natuur­beskrywing: “Soos die derm van ’n huidjiehu kom ’n plaaspad veld se kant van die gehuggie verby (. . . ) Die plek is afgesonder en onbelangrik, ­nêrens aangeteken nie, skaars ’n ­kolletjie vliegmis op die landkaart”.

Die skrywer, wat reeds met haar kortverhale en vervolgverhale ­bekendheid verwerf het, plaas haar roman aan die Weskus, op die klein plekkie Toringbaai. Hoewel dié naam aangetref word op die Weskus-kaart, is daar goeie rede om te vermoed die roman slaan op Doornbaai, waar Sussie Kotze self op­gegroei het en waar haar pa by die North Bay Canning Company se kreeffabriek ingenieur was.

Die verhaal speel af gedurende die Tweede Wêreldoorlog en aanvanklik lyk dit of net dowwe klanke oor Smittie se radio dié afgesonderde gemeenskappie aan die wêreld se agterkant bereik. Kokkie Dorn sit plat op die vloer om beter te hoor, al skep die opstaan gevaar dat mense haar donkerblou bloemers sal sien. Maar die oorlog raak ook vir ­hulle aan: Daar is ’n aanvraag vir blikkieskreef en later -vis vir die soldate. Smittie moet sy skietding inlewer. Later ontferm Toringbaai se mense hulle oor 25 Amerikaners in ’n reddingsboot. ­Goedere uit ’n skip wat gesink het, word spotgoedkoop verkoop. Smittie gaan ­begrawe sy planne vir ’n bom diep onder die sand. Almal debatteer lustig oor ­Robey Leibbrandt en die stoeier ­Johannes van Wyk se ­wedervaringe en “sê die dom leiers voor wat fout maak”. As die ­Engelse Jimmy White saam kom radio luister, word die Duits­gesinde ­uitsprake minder. So word ruimer konteks en persoonlike teks nou verweef.
Kotze is ’n uitstekende verteller en ’n nog vaardiger woordkunstenaar, met ’n fyn oor vir die ken­merkende Wes­kustaal. So is die presiese Kittie gekant teen Meggie se “gepoespas” in die huis; die ­skuite is “vars geskilder en gekalfaat – wit en blou met ’n breë swart streep om die rondereel”; Smittie moet kyk dat die kinders nie “onwettighede” aanvang nie; die manne hou hulle “ghalak (...) tussen die meide”, ’n besope Petrus kom hou hom “dreunlyf”, en veel meer.

Dié skerp karakterisering skep ’n reeks kamees van kleurvolle klein­dorpse persoonlikhede in ­hul om­gewing. Veral Ockert, Miemie en hul dogter Gwendolien; ­Kerneels, Pollie en hulle seun ­Jannes; die fabriekshoof ­Sieber en sy vrou, Olga; Juffrou ­Dippenaar van die eenmanskooltjie en veral Smittie, Kittie en hulle dogters Ita en Fia word fyn geteken. En Marija – die tussenvrou: self byna wit, wat kinders soos Dolf, Meggie, Bles en Witkind by drie manne het.

Die persone lyk aanvanklik ­belang­riker as die gebeure: alledaagse ­doenighede soos die smous se koms, skoolhou, kerkbasaar en Krismis­vierings word vaardig ­ingevleg om ’n ­outentieke beeld te skep van mense wat arm is, maar vir mekaar omgee.

Langsamerhand vorm sommige ­gebeure tog ’n chronologiese ­patroon wat in twee dele en ’n ­epiloog uiteengesit word. Dit volg op die vernietigende storm waarmee die roman open, waar­tydens nog ’n dogtertjie gebore word vir Johanna Stoker. As die baba, soos die ­vorige twee nie oorleef nie, is dit is die laaste strooi vir Stoker, wat besluit om te trek. Die eerste deel sluit hiermee af.

Vanaf die tweede deel neem die Kluytse letterlik en figuurlik oor: Wieljam Kluyts reageer op ’n ­advertensie vir die heropbou van die hawehoof. Geleidelik begin ’n Kluyts-“volksplanting”, met nuwe familielede wat toenemend funksies begin oorneem, nuwe rolle in die ­gemeenskap vir hulself skep, beheer ­begin oorneem en hulle waardes steeds sterker laat geld. Mense wat weggaan, soos Juffrou Dippenaar wat trou, help dit aan.

Die ander inwoners ervaar toe­nemend irritasie en probleme met die nuutkommers se onregmatige en ­opportunistiese manier van doen. Fia vind: “Dis niks meer ­lekker nie (...) Hulle het nie meer maats nie”. Daar kom selfs ­tweespalt tussen die ou ingesetene, ­Kerneels, en die hoof van die ­kreeffabriek, Sieber, oor die ­Kluytse en Smittie vind dit ’n persoonlike verlies as sy dambordmaat Dirkie in die Kluyts­familie introu. Uiteindelik raak die ­redes om weg te gaan ook vir Smittie sterker as die oorweginge om te bly.

Die verhaal vervat in die epiloog, met Fia en Ita se besoek aan Toringbaai ná baie jare. Dit is dan dat die onder­liggende boodskap begin deur­skemer: ook die Kluytse het, ná heelwat aksie en selfs verbeteringe wat hulle aangebring het op Toringbaai, intussen weer ­verhuis. Nou voer Marija se nasate die botoon. Die wiel draai, klein mense word vasgevang in sake binne én buite hul beheer wat aan gemeenskappe pieke en dalings besorg.

Die boek raak in die proses ’n ­tapisserie van klein belewenisse teen die wyer doek van ’n ruimer geskiedenis – ’n oeroue tema.

’n Moontlike nadeel is wel dat ­gekies word vir ’n alwetende tipe ­vertel­instansie, wat om die beurt as’t ware in die verskillende karakters se koppe ­inklim en sy of haar gedagtes en ­perspektiewe vir ’n hoofstuk of twee laat oorheers. Wanneer veral Fia egter ­weggaan, kom dit nogal skielik tot ’n ­einde en ten slotte word gesuggereer dat dit eintlik al die tyd haar perspektiewe was. Maar sy kan as karakter tog nie weet hoe die ander personasies gedink het nie? ’n Keuse vir een personale ­(kinder)verteller en ’n ankerperspektief sou in dié ­opsig oortuigender gewees het.

E. Kotze slaag nogtans daarin om ’n harde, maar bekoorlike wêreld en sy mense dinamies voor oë te roep in ’n ­ouwêreldse taal wat op sigself hierdeur terselfdertyd ­op­nuut lewendig gemaak én ­gepreserveer word. Dit maak van hierdie roman iets besonders.

KWELA, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 256 BLADSYE, ISBN 978-0-7957-0287-7.)

Dorothea van Zyl is direkteur van die Woordfees en verbonde aan die ­departement Afrikaans en Nederlands aan die US.

Buy this book

Available at:

Price:


More information

Toring se Baai | General Fiction


Author: E. Kotze
Category: General Fiction
ISBN: 9780795702877
Date Released: 26 August 2009
Price (incl. VAT): R 295.00
Format: Soft cover, 256pp

About this author

E. Kotze


I was born on 17 October 1933 on the farm Langrietvlei in the Hopefield district. I grew up in Doornbaai, a fishing village on the West Coast where my father,...

Read more...

Kwela also recommends these titles: